Ons praat voortdurend oor posisie grootte wanneer jy CFD’s verhandel, maar wat beteken dit eintlik? Die grootte van ‘n posisie is niks anders as die aantal kontrakte wat jy op CFD's verhandel of die aantal aandele wat jy op ‘n slag koop nie. Met ander woorde, die blootstelling aan een instrument in 'n transaksie. 'n Risiko strategie is die sleutel tot suksesvolle verhandeling, indien jy wil seker maak dat jy nie jou rekening uitwis nie.

As ons oor belegging praat, bedoel ons die werklike aandele / ekwiteit wat jy koop en verkoop, en as ons oor CFD's praat, verwys ons na die aantal kontrakte wat verhandel word, terwyl die onderliggende bate wel die werklike aandeel verteenwoordig.

As jy meer van CFD's wil leer kyk gerus na ons video by: https://frans-de-klerk-independent-technical-analysts.ck.page/a4416e79f8

In hierdie artikel wil ons posisie grootte van CFD verhandeling verduidelik. Ons gaan probeer om dit so eenvoudig moontlik te hou.

Stap 1. Bepaal jou risikofaktor, in hierdie geval 3%. Gestel jy het R10 000 in die rekening en jy besluit om 3% van jou kapitaal te waag op elke transaksie. Dit beteken 3% van R10 000 = R300. Dit is die bedrag wat jy bereid is om te verloor indien die transaksie nie uitwerk nie. As beginner kan jy dit dalk nog kleiner maak en selfs dalk 2% oorweeg.

Stap 2. Bepaal en stel jou keerverlies. Kyk na die grafiek van die instrument en bepaal waar jy wil uitklim as die transaksie nie werk nie. Gebruik sterk steun – of  weerstandsvlakke, bewegende gemiddeldes, Bollinger-bande en enige ander aanwyser om die keerverliesvlak te bepaal. Gestel jy wil lank (koop) gaan teen R100 en jy het jou keerverlies vlak geïdentifiseer by R82, wat beteken dat jy ‘n R18 (R100 minus R82) verlies per kontrak gaan neem sou dit nie uitwerk nie.

Stap 3. Bepaal die aantal kontrakte (CFD’s) wat jy moet verhandel. Neem die bedrag van R300 wat jy in stap 1 bereken het, en deel dit deur die R18 per aandeel, wat jy in stap 2 bepaal het. In hierdie geval is R300 / 18 = 16.666. Ons rond gewoonlik af, wat beteken dat ons 16 kontrakte vir hierdie CFD-transaksie gaan neem by R100 per aandeel. Hoekom? Omdat die maksimum bedrag wat ons op enige transaksie wil verloor, R300 is. Nie elke transaksie gaan ‘n wen wees nie.  Maar as jy nie gierig is nie en jou tegniese kerse en indikatore ken behoort daar meer wenners as verloorders te wees.

Indien daar steeds vrae is, voel gerus om ons te epos by admin@fransdeklerk.com