Shoprite is die grootste supermark handelaar op die vasteland van Afrika. Hul nuutste kwartaallikse opdatering vir die periode geëindig in September 2019, het die volgende berig: omset het met 7,3% toegeneem, Supermarkte in RSA se verkope het met 10,3% in die laaste kwartaal gegroei. Die groep se ander bedryfsegmente, wat die OK konsessie, Computicket, MediRite-apteke en Checkers Food Services insluit, het 'n toename van 6,4% in verkope getoon. Die OK konsessie-afdeling het die verkope met 8,6% laat styg.

  • Die stogastiese aanwyser bevestig die oorverkoopte situasie van die aandeel en die positiewe afwyking impliseer dat die moontlikheid vir ‘n bons na bo meer waarskynlik maak.

  • Die aandeel word vasgevang binne 'n dalende kanaal (positief) tussen lyn A (R105-73) en lyn B. Die optimisme van die formasie is bevestig toe lyn A in 'n steun verander het. Die moontlike doelwit van die formasie is R118-59 indien dit sou uitspeel.

  • Die 3 & 8 dae bewegende gemiddelde wys steeds afwaarts en slegs as die korter 3 dae bewegende gemiddelde (R106-47 - groen lyn) opwaarts kruis deur die langer 8 dae bewegende gemiddelde (R108-52 - rooi lyn), sal die korttermyn sentiment teenoor die aandeel verander na positief.

  • 'n Haarnaaldbooglaagte (moontlik positief) is bo lyn C (R107) bevestig.

  • Vir spekulante – Koop of oorweeg ‘n lank bo R107-20 maar gebruik R102-50 as keerverlies om kapitaal te beskerm. Die moontlike teikens na bo is: R109-20, R110-50, R111-55, R112-60, R114-15 en R116-05.

  • Vir medium tot lang termyn beleggers – Die 40 week bewegende gemiddelde (R123-17) op die weeklikse grafiek is steeds ‘n weerstand wat die lang termyn sentiment teenoor die aandeel steeds negatief hou.

Frans & Christelle